‘n Droom word waar!

Dit is vir my ’n groot vreugde en ’n groot voorreg om deel te wees van die skep van Loebi se wêreld in samewerking met Kinderwerf. Sedert my eerste boek in 1992 gepubliseer is, was een van my drome om vir kleintjies so iets soos hierdie beskikbaar te stel – ’n deurlopende blootstelling aan die betowering van stories sodat lees deel word van hulle lewens. Soos ek self as kind ervaar het, maak stories wêrelde van rykdom vir ’n mens oop.

’n Kind wat gebore word, nes Loebi wat uit sy eier te voorskyn kom, is ’n klein ontdekkingsreisiger. Hulle bevind hulle skielik in ’n wêreld wat hulle moet verken. Hulle voel verward en oorweldig deur soveel vreemde dinge en dan moet hulle, nes elkeen van ons moes, hulle eie lewenspaadjies vind.

Elke dag leer hulle meer en meer van hulle wêreld, eers net hulle eie klein kring van gesin en familie en dan dein hulle lewens wyer en wyer uit soos wat hulle meer en meer ontdek. Ons is almal steeds ontdekkingsreisigers!

Toe Martie Kruger in 2007 met die idee van Loebi-stories te voorskyn gekom het, was dit vir my ’n unieke ervaring om saam met die klein Loebi te begin loop en insidente uit sy lewe neer te skryf.

Hierdie stories is ’n soort joernaal van die Drakeplaneet. Elke kind het soortgelyke ervarings, want die Drakewêreld is maar net ’n storie-spieëlbeeld van ons eie wêreld en Loebi, die draak, is maar net ’n kind in ’n drakielyf.

Dit was ‘n opwindende ervaring vir my om Loebi die draak te kon ontmoet van die oomblik dat hy uit die eier gekom het – amper soos ’n eie kind of kleinkind!

Voordat Loebi kon begin met al sy dinge, moes ons eers uitvind hoe lyk hy en hoe lyk die Drakewêreld!En die span wat uiteindelik die hele Loebi-wêreld gestalte gegee het, het begin saamwerk om elkeen op sy of haar unieke manier en met hulle unieke talente ‘n dimensionele Loebi-wêreld te skep.

Ek kon voel hoe voel Loebi, toe hy uit die eier gekom het, maar hoelyk hy? En hoe lyk Pappa en Mamma en Sussie-Ba en Sussie-La en oupa Loebibus en ouma Heidels en al die ander drake?

Heidi Fivaz het gelukkig geweet en omdat sy geweet het, kan sy die pragtige illustrasies doen.

As deel van my bydrae, het ek die stories vir elke ouderdom aangepas by die kognitiewe vermoëns van ’n kind van daardie ouderdom. Die stories se sinstruktuur en woordeskat begin dus eenvoudig vir die heel kleintjies, maar dit word stelselmatig meer en meer verwikkeld, met nuwe woorde en begrippe wat deur die kind uit die konteks van die storie afgelei kan word.

Die kind “leer” dus byna “onbewustelik” lees – wat die heel beste manier is! “Lees” word dan ‘n “natuurlike” deel van sy of haar lewe. En die voordele vir iemand wat vlot en met gemak en begrip kan lees is eindeloos, nie net vir plesier nie – maar alles wat die kind in sy of haar latere lewe sal moet bestudeer in enige vak of veld word in geskrewe taal aangebied.

Om ’n kind die geleentheid te gee om vlot te kan lees, is om hom wêrelde present te gee.
drakedorp

Gepubliseer on Oktober 2, 2009 at 8:01 vm  Comments Off  
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.